Luiperd besigheidslesse - Koedoe

HOME » Bladsye » Luiperd besigheidslesse - Koedoe

Sakeles : Luiperds - Koedoes

Respek sorg vir gesonde balans en oorlewing van albei

Albei die diere is meesters op die gebied van oorlewing, veral in digte bosse en bergagtige omgewings. In die Bosveld kompeteer koedoes en luiperds met ander van hulle soort vir loopgebiede, asook met die mens, en koedoes kompeteer nog met luiperds ook.

Ironies genoeg is ’n koedoe een van die bokke wat waarskynlik die beste oorleef en aanteel in die Bosveld se berge en ruigtes. So ook is luiperds die roofdiere wat die beste oorleef en aanteel in die Bosveld. Die diere leef, slaap, eet en teel tussen mekaar in dieselfde gebied. Koedoes beweeg ‘n groot deel van die tyd tussen en onder bome, luiperds beweeg ook tussen bome, gekamoefleer deur skadukolle, en slaap dikwels hoog in die bome, met koedoes wat naby of onder hulle deurloop.

Dat koedoes so goed tussen luiperds oorleef, is op sigself ’n misterie. Ontleding van mismonsters wys dat rooibokke, en nie koedoes nie, ‘n groter deel van luiperds se spyskaart uitmaak, al beweeg rooibokke nie die hele tyd in die ruigtes nie. Die vaardighede van beide die diere is verstommend en sakemanne sou wat wou gee om te weet wat albei se geheime is. Om albei die diere as ´sakeleermeesters´ op Shayamanzi te hê, is voorwaar ‘n groot voorreg. Die onbemande internetkameras bied my die geleentheid om hierdie diere in die dag en nag dop te hou. Koedoes in die Bosveld leef oënskynlik vreesloos, dag en nag, tussen die luiperds en die gevaarlike slange, soos mambas, Mosambiekse spoegkobras en pofadders. Slange en ander roofdiere is juis ook ‘n groot oorsaak van luiperdwelpies se dood.

Koedoes en luiperds kan in dieselfde gebied suksesvol oorleef sonder dat luiperds te veel koedoes vang. Die geheim is dat koedoes ander wild as ‘n “buffer” tussen hulle en luiperds gebruik. Koedoes het oor dekades die gedrag en jaggewoontes van luiperds fyn dopgehou.

‘n Koedoe weet dat ‘n luiperd nie so maklik ‘n bok vang nie, want luiperds moet naby kom om vinnig te storm en wil nie in die proses beseer word nie omdat hulle alleenjagters is. ‘n Ernstige besering beteken dat ’n luiperd nie kan nie jag nie, wat weer honger kan beteken. ‘n Skop met ‘n vlymskerp koedoe-hoef kan maklik so ‘n ernstige wond veroorsaak. ‘n Klipperige omgewing, veral teen ‘n klipperige lae randjie, is nie ‘n gunstige jaggebied vir luiperds nie. Gewoonlik is daar baie kleinwild wat laer in die ruigtes hou, byvoorbeeld bosbokke, njalas, rietbokke, en selfs rooibokke, asook ander diere soos ape, bobbejane en voëls, byvoorbeeld fisante en patryse – almal diere wat op die luiperds se spyskaart is, maar ‘n “buffer” vorm tussen die koedoes (wat net ‘n bietjie hoër op teen die kliprandjies wei), en die luiperds, wat in die langer gras en ruigtes hulle prooi bekruip.

www.leopard.tvwww.leopard.tvDie voëls en bobbejane is ook nog ´oë´ – hulle kan skielik wegvlieg of blaf vir enige teken van ‘n roofdier. Luiperdvoetpaadjies wat hulle loopgebied aandui, loop meestal langs rivieroewers en in mindere mate, of oor korter afstande, oor moeilike terrein. Luiperds sal wel, wanneer hulle nie noodwendig op die jag uit is nie, hoog op ‘n koppie of in hoë bome gaan lê om wild se bewegings presies vas te stel, veral net voor donker. Net na sononder sal hulle toeslaan op die gebied waar die wild gaan oornag, gewoonlik nie ver van die plek waar hulle tot net voor donker nog gewei het nie. Kleiner wild sien ook ‘n luiperd moeiliker raak in die lang gras langs rivieroewers as die groter koedoes, wat ietwat uit die langgras en meer tussen die bome wei. Alhoewel koedoes ook nie groot troppe maak nie, het ‘n troppie koedoekoeie ‘n baie beter kans om ‘n luiperd raak te sien as ‘n kleiner bosbokooi wat alleen deur die langgras en struike beweeg. Spanwerk en die gebruik van mekaar se sintuie is dus van lewensbelang om te oorleef.

Dit is asof daar ‘n perfekte balans is en al die diere ‘n regverdige kans het om te oorleef. Dit verg dus fyn uitgewerkte strategieë van roofdiere om week na week suksesvol te jag. 70%+ van luiperdaktiwiteite is in die ruigtes langs rivieroewers waar daar baie groot variasie van prooi is (voete / kliënte).

Deur die eeue heen het luiperds en koedoes instinktief ‘n diep respek vir mekaar ontwikkel. Luiperds ken en hou rekening met koedoes se uitmuntende vermoë om hulle te bly ontglip al bly hulle in dieselfde bos. Koedoes hou rekening met luiperds as waarskynlik die beste jagters in ruigtes, en juis daarom oorleef en teel die koedoes aan en bly hulle een van die wildboer se belangrikste bronne van jag-/biltonginkomste. Pryse per kilogram koedoevleis/-biltong is juis baie laag in verhouding met ander wild omdat die koedoes so goed in die Bosveld aangepas is en teel (blaarvreters).

Wildboere wat goed besigheid doen deur koedoevleis/-biltong aan winkels/restaurante te voorsien, of miskien selfs teen die heersende dollar/rand wisselkoers die vleis uitvoer, mag dalk in die toekoms nog breed glimlag. Almal kan nie skaars wild vir ‘n spesiale trofee jag nie, of eers daaraan dink om skaars wild te skiet vir vleis of biltong nie. Die vraag na vleis (van diere) wat in natuurlike veld wei en nie allerlei hormoontoevoegings bevat nie, styg ook daagliks.

Die kernwoord hier is “respek”. Die oomblik wanneer twee partye mekaar respekteer is die kans vir sukses en oorlewing soveel beter vir albei partye.

Luiperds en koedoes respekteer mekaar en albei partye lewe suksesvol en langer. Omdat koedoes se sintuie al so goed ontwikkel is om luiperds raak te sien en te ontglip, waarsku ´n koedoe wat skielik begin hardloop natuurlik ook die ander wild. Gewoonlik staan hulle doodstil agter ‘n bos om alles waar te neem en hardloop as dit ‘n “groot risiko” is. Die ander wild weet dit.

www.leopard.tvLuiperds behoort dus eerder koedoes te vermy, want die koedoes gaan hulle waarskynlik eerste waarneem, weghardloop en sodoende al die ander prooi ook laat hardloop. Die luiperd kan natuurlik die koedoe se vermoë “respekteer” en hom eerder as ‘n “bondgenoot” inspan om hom te help om suksesvol jag te maak op ander wild. Ander wild wat in die omgewing van koedoes wei, mag moontlik oorgerus en te veel op hulle gemak raak en nie mooi fokus op wat in die omgewing aangaan nie en dus ‘n uitgeslape luiperd ten prooi val. Luiperds weet al dat koedoes waarskynlik sal sorg dat hulle omring is deur ander wild, voëls, en bobbejane. Aangesien die koedoe heelwat groter as dié diere is, gaan die luiperd, met ‘n groot verskeidenheid op sy spyskaart, eerder die kleiner prooi aanval wat ‘n laer risiko vir beserings inhou. Hierdie alleenjagter kan nie beserings bekostig nie. Die suksesvolle luiperd, wat koedoes respekteer, sal dus die langgras en digte ruigtes om ‘n koedoe fynkam en dalk eerder konsentreer op ‘n alleenstaande bosbok of njala-ooi. Natuurlik gaan ‘n luiperd “die swak skakel” tussen die koedoes aanvat – soos ‘n kleintjie wat afdwaal en nie meer deel vorm van die gesamentlike netwerk van sintuie van die hele trop koeie nie. Die ma weet dit en, in teenstelling met baie ander wild, loop haar kleintjie en selfs die vorige jaar se kalf gewoonlik baie naby aan haar in die ruigtes. Die ander swak skakel is soms ‘n gegewe situasie. Ironies ontstaan die swak skakel/situasie weereens waar die mens inmeng deur koedoes te voer. Rondom die voerplekke drom ‘n klomp koedoes saam wat almal gelyktydig vreet, stof opskop en ‘n “geraas” maak. Die kleintjies word uitgedruk en dwaal alleen eenkant weg van hulle ma’s. Selfs die bul (leier), wat gewoonlik eenkant staan totdat die koeie die “voerplek” beveilig het, tree anders op, stap in na die voerplek en jaag selfs die koeie weg om eerste by die voer uit te kom. Hierdie “swak skakel”- situasie skep dus ‘n perfekte geleentheid vir ‘n ervare, uitgeslape luiperd om te kies en te keur wat die maklikste prooi is om aan te val. Om dinge te vererger, gebeur dit boonop wanneer dit laatmiddag of aand is en die luiperds dus makliker kan wegkruip én beter kan sien.

Wildboere gee gewoonlik voerkorrels teen die laatmiddag, wanneer die vlakvarke gate toe begin gaan en die bobbejane slaapplek en skuilplek in die hoë bome vir die nag gaan soek, juis omdat veral bobbejane, nie in die nag so goed kan sien nie. Die voëls het ook al weggevlieg na hulle neste toe, met die gevolg dat die koedoes hulle min of meer in ‘n weerlose situasie bevind. Hulle raas, sien nie goed nie, vertrap mekaar en fokus nie op die omgewing nie en hulle “buffer” van diere wat hulle altyd waarsku (voëls, bobbejane, ens) het intussen gaan slaap.

Die hele situasie word gedurende die teeltyd (ongeveer Mei) nog vererger, want nou het die bulle net een doelwit, om te teel. Een bul dek vyf of meer koeie en die voerplekke waar al die koeie in een trop bymekaar is gee hom geleentheid om rond te loop en presies te ruik watter koeie op hitte is. Meimaand is verder ook die begin van die jagseisoen en die jagters begin nou gedurende die dag met lang gewere in die veld rondloop.

Die ervare, opportunistiese luiperd is intens bewus van al die “kwesbare” oomblikke en sal dus sy “jagstrategie” hierby aanpas deur kilometers ver uit die bosse en ver van die vlaktes te beweeg om homself rondom hierdie voerplekke in te grawe en gereed te maak vir ‘n feesmaal wat voorlê.

In hierdie “oorlewingspel” tussen koedoes en luiperds is daar wel ‘n groot risiko vir albei. Oorgretigheid (´greed´) by die koedoes om by die voerplekke uit te kom en ‘n oorgretigheid by die luiperds om hierdie maklike vangplek te benut, dra daartoe by dat hulle hulle respek verloor vir die ander koedoes en luiperds se loopgebiede. Oorgretigheid kan dus die dood beteken, veroorsaak deur jou eie spesie. Koedoes en luiperds, veral die manlike diere, het spesifieke loopgebiede. Deur net doodgewoon ander koedoes en luiperds se loopgebied te ignoreer, is ‘n waarborg vir ‘n konflik met joue eie soort. Lank voor die koedoes by die voerplek uitkom, het ‘n ander bul, wat die area en bos baie beter ken, die koedoe(s) al ingewag en as dit die groot, sterk bul is wie se loopgebied dit is, kan dit maklik die koedoe se einde beteken. ‘n Swaar wond deur ‘n horing veroorsaak, wat septies en vol maaiers word en later bosluise lok, kan ‘n stadige, pynlike, septiese dood beteken. Gulsigheid (“greed”) kos baie besigheidsmense hulle ondernemings, en selfs hulle lewe.

‘n Goeie wenk vir wildboere is miskien om nié voerplekke waar koedoes vreet, te naby aan die ruigtes te hê nie.

Alhoewel luiperds dus suksesvol rondom mensgemaakte voerplekke kan jag, is daar baie risiko´s wat in aanmerking geneem moet word as daar buite die loopgebied/kennisgebied gejag wil word (besigheid gedoen word).

Uit koedoes teen luiperds, of luiperds teen koedoes is, daar dus baie besigheidslesse te leer wat ons vir ons kinders of jong voortvarende besigheidsmense kan deurgee.

Die besigheidswêreld is vol voorbeelde soos koedoes en luiperds. In my voorbeeld vergelyk ons groot, sterk besighede, naamlik die genoteerde maatskappye op die Johannesburgse Aandelebeurs as die luiperds (roofdiere). Die klein besighede bv. eenmansake, vennootskappe, besighede met minder as 50 permanente personeellede, is die koedoes (prooi).

Hoeveel keer hoor ‘n mens nie dat die klein sakeman sê: “Die groot besighede gaan ons doodmaak, ons kan nie teen hulle kompeteer nie; hulle verkoop groot volumes en kan dus pryse ver laer sny as wat die klein besigheid kan bekostig". As koedoes so sou “redeneer”, moes hulle al lankal uit die berge gevlug het, weg van die luiperdsaf en op die vlaktes gaan bly het. Die ironie is, hier sou hulle moontlik al na die eerste winter gevrek het, want hulle is blaarvreters en sou nie blare kry aan die bome op die oop vlaktes nie. Koedoes is ook baie vatbaar vir die koue winde op die vlaktes. Weeg dus, soos koedoes, risiko´s op en gebruik jou sterk punte as jou mededingende voordele om in jou natuurlike omgewing te oorleef en ‘n bestaan te maak.

Dit is juis die koedoes, wat naby aan die luiperds bly en hulle gereeld dophou, wat ook die beste oorleef, en die meeste geleenthede raaksien. So is dit ook met suksesvolle luiperds, wat soos groot besighede sorg dat hulle goeie assosiasie en besigheidsbande met koedoes (klein besighede) aangaan juis om die entrepreneurskrag van suksesvolle klein besighede saam te snoer om self meer suksesvol te wees.

Groot besighede (luiperds) gebruik dus eerder suksesvolle klein besighede (koedoes) se vaardighede, en stoot ander klein besighede (ander wild in die omgewing) doodgewoon uit die pad uit.

Klein besighede (koedoes) en groot besighede (luiperds) is albei sterker en meer suksesvol as hulle eerder bondgenote is en mekaar se sterk punte benut.

Byvoorbeeld: Groot besighede (luiperds) het ‘n groot spyskaart van transaksies (prooi) en kan nie werklik spesialiseer op een soort transaksie (prooi) nie, terwyl klein besighede (koedoes) weer oorleef deur in ‘n nismark te spesialiseer, hulle vreet byvoorbeeld net blare en vrugte.

Dit is juis hier waar die groot geheim lê. Groot besighede (luiperds) fokus op die groter prentjie (‘n wye spektrum van produkte / transaksies / prooi), terwyl klein besighede (koedoes) moet fokus op die kleiner prentjie (nismark-spesialisasie), met een of twee produkte.

Word jy die leier op ‘n spesifieke gebied/produk, raak die groot besighede (luiperds) juis afhanklik van jou produk waarvan jy die spesialiskennis het.

Baie belangrik: die klein man gaan sukkel om met Woolworths se gehalte en verskeidenheid groente te kompeteer. Wees dus die besigheid wat een van die produkte aan Woolworths moet verskaf, maak Woolworths eintlik afhanklik van jou produk. Kort voor lank sluit Woolworths ‘n groot kontrak met jou en word daar juis groot volumes van jou een produk via hulle landwye netwerk van winkels versprei. Al kry jy net ‘n klein gedeelte van elke rand, is die totaal van al hierdie klein deeltjies ‘n groot aantal rande. Dit is baie meer as die totale rand wat jy op jou eie met ‘n paar transaksies deur jou eie klein gelokaliseerde netwerk in een dorpie sou kry.

Die oomblik wat luiperdbesighede dus afhanklik raak van koedoebesighede, en andersom, is daar ‘n wedersydse respek wat vestig en wat die kern is vir lang, standvastige en winsgewende besigheidsverhoudinge.

Koedoes (klein besighede met spesialiskennis) ontglip dus die luiperd, en ander minder suksesvolle besighede (ander wild) word oorgeneem. Die ander wild wat so deur die luiperds opgevreet word, is waarskynlik ook blaarvreters wat met die koedoes se kalfies op dieselfde vlak meeding. Met hulle wat dan die hoofprooi van die luiperds raak, het die jong koedoes kans om op die laer blare sterk te word.

Alhoewel groot besighede (luiperdbesighede vir die voorbeeld) ‘n omgewing totaal oorheers, is dit dus tog moontlik vir klein besighede (koedoes) om langs of tussen hierdie groot besighede suksesvol te oorleef.

ENTREPRENEURS / KLEIN BESIGHEDE

In Suid-Afrika is dit betreklik moeilik om as entrepreneur ‘n klein besigheid te begin – daar is doodgewoon net te veel regulasies en wette. Van skooldae af het dit my altyd gepla; hoekom moet ‘n mens vir iemand anders werk, hoekom moet ’n mens altyd toestemming vra vir alle kreatiewe dinge wat jy wil doen? Dit klink waarskynlik baie rebels, maar eintlik besef ek wat my as kind gepla het en dit is “oor-regulering”. Sny jou hare kort, sny dit net netjies en hou dit netjies. ‘n Goeie wenk vir jong kreatiewe mense wat entrepreneurs wil wees is: Begin ‘n besigheid waar die mark jou reguleer en nie elke tweede ou in ‘n regering wat nog nooit ‘n besigheid besit het nie; probeer jou heil vind in ‘n ongereguleerde mark, soos wat dit in die natuur gebeur.

Luiperds en koedoes, die hele natuur, reguleer hulle/homself. Waar die mens inmeng, loop dinge gewoonlik verkeerd.

Ek dink byvoorbeeld aan wat ek hier skryf en die video´s wat op die Internet geplaas word. Dankie tog vir Internet en YouTube, anders moes ek seker eers weer toestemming en keuring vir elke diere-video by die een of ander raad gekry het, wat my na die volgende raad stuur om oor ‘n jaar miskien vir my te laat weet, nadat ek hulle tien keer gebel het, dat hulle my voorlegging verloor het.

Oor-regulering en magsbeheptheid loop hand aan hand. Die lande in die wêreld waar sake goed verloop, is juis lande waar al die regulasies verslap word en die mag wat ‘n regering verkeerd aanwend, ingeperk word. Entrepreneurs word ondersteun, want dit is juis hierdie klein besighede wat werk skep en bydra tot meer gesinne wat oorleef.

Kyk maar hoe ‘n luiperd sy omgewing bestuur. Al beskik hy oor die mag en vermoë om dalk al die wild in ‘n gebied dood te maak (selfs al het hy nie eens vleis nodig nie), weerhou hy hom daarvan. Die luiperd weet instinktief dat hy dan moontlik sal moet trek na ‘n ander gebied wat hy nie ken nie en waarvoor hy sal moet veg. Hy loop dan ook die risiko om doodgemaak te word of ernstig beseer te word, en alles (sy lewe) te verloor deur ‘n ander luiperd, of ‘n wildboer wat hom vang, omdat hy oorgretig en gulsig is en alles opvreet.

Nee, ‘n luiperd sal eerder sy gebied beskerm tot die dood toe. Hy sal die “swak” skakel (bv ‘n beseerde bok wat sou vrek) uithaal, en eintlik die wildboer ‘n guns doen deur sy genepoel te versterk. So sal hy ook die bok wat nie in daardie omgewing hoort nie en dalk die balans kan versteur, uithaal (bv blesbokke wat in die ruigtes langs ‘n rivier aangehou word). Van kleins af het die luiperd se ma (sowat 18 maande) lank aan sy instink gewerk en hom daarna vrygelaat om te oorleef. Die mark (natuurwette) sal jou in elk geval uithaal as jy die balans versteur. As jou produk, prys, verpakking, waarde nie reg is nie, is daar nie vir jou plek in die mark nie – kopers kan nie gedwing word om by jou te koop nie.

As klein besighede nie soos luiperds en koedoes die kans gegun word om hulle eie entrepreneuriese ding te doen nie, bly ekonomiese groei, werkskepping en vaardigheids-ontwikkeling ‘n droom.

Afrika het die wonderlike geleentheid om al dié dinge by die natuur te leer. Ons regering en regerings in Afrika-lande moet dit net besef en begin “dereguleer”. Hulle moet die klein besighede aanspoor om kreatief te wees en hulle entrepreneurskap oor te dra sodat almal eerder ‘n positiewe gesindheid kan ontwikkel en sê: “Ek werk vir myself en help ander wat my wil help om hulle te ontwikkel.”