// // // //
SONGS
ADVERTISE
Advertise with us:
R10 000 pm VAT excl.

Wildlife auctions

BACK
HOME » Wildlife auctions

Passiewe vangkrale (Article only published in Afrikaans)

1 December 2014

Hoewel massavangs altyd ‘n aanvaarbare opsie sal bly, het passiewe vangmetodes ‘n relatief lae koste en kan wildboere self wild vang en versamel. J DU P BOTHMA verduidelik hoe dit gedoen word.

www.leopard.tvwww.leopard.tvwww.leopard.tvwww.leopard.tvwww.leopard.tvwww.leopard.tvwww.leopard.tvwww.leopard.tv

Die vang van wilde diere is ‘n antieke kuns omdat die jagter-versamelaars die produkte van diere gebruik het vir voedsel, kleding en selfs huisvesting. Al die ouer tegnieke was gemik daarop om die diere dood te maak, maar met die totstandkoming van die wildbedryf het daar ook ‘n behoefte ontstaan om diere lewend te vang.

Aanvanklik het die lewende vangs van wild om massavangs in vangkrale en pylgewere met gevaarlike chemiese middels gewentel. Weens toenemende koste en omdat vangkrale vir massavangs nie altyd op alle dele van ‘n wildplaas opgerig kan word nie, het die tegniek van die passiewe vangs van wild met tyd ontwikkel. Hoewel massavangs altyd ‘n aanvaarbare opsie sal bly, het passiewe vangmetodes ‘n relatief lae koste en kan wildboere self wild vang en versamel.

‘n Passiewe vangkraal is gewoonlik ‘n klein kampie van sowat 1 ha met ‘n wildwerende omheining. Dit bevat een of twee hekke wat meganies of met ‘n radiosein beheer word. Wild word met sout, voer of water gelok, en die hekke word oopgelaat totdat die gewenste dier(e) in die vangkraal is voordat hulle toegemaak word. Soms word daar van ‘n videokamera gebruik gemaak en die hekke word dan elektronies toegemaak. Die vangkraal het gewoonlik ‘n laaitrog wat na ‘n laaibank toe lei, of daar is ‘n stel hokke waar die wild versamel en aangehou kan word totdat daar genoeg is om te verkoop. Wild moet egter nie in ‘n permanente vangkraal geskiet word nie omdat die reuk van bloed ander wild tydelik sal verhoed om die vangkraal binne te gaan.

 

Belangrikste voordele en nadele

Die belangrikste voordeel van passiewe wildvangs is dat die wild nie onnodig deur aanjaag aan stres en versteuring blootgestel word nie. Die kapitale investering is relatief klein en die diere kan beter geselekteer word. Gewenste diere van besondere trofee- of teelgehalte kan met min moeite weer losgelaat word. Siek of beseerde diere, of diere met parasietbesmettings, kan gevang en behandel word. Die ingang kan ook met ‘n drukapparaat in die hek, wat dipmiddels vrystel, toegerus word. Passiewe vangkrale ontstig wild min en dit strek tot voordeel van toerisme en jag. Hulle is ook geskik vir klein, intensiewe wildproduksie-eenhede. Indien die vangkraal ook met ‘n videostelsel toegerus is, kan die diere op die Internet bemark word, soos op die webwerf www.shayamanzi.com.

Die belangrikste nadele van passiewe vangkrale is dat die lokmiddels soos water, sout en voedsel ook ongewenste dier-soorte kan lok, wat skeiding sal bemoeilik. Kabels oor die hekke verhoed ook dat diere soos kameelperde die vangkraal binnegaan. Daar kan ook aggressie tussen en binne wildsoorte voorkom by lokmiddels soos sout, voer en water, wat tot beserings kan lei. Die windrigting moet ook gewens wees om te verhoed dat die reuk van die vangspan en toerusting die diere ontstig. Sekere dier-soorte vreet of drink net snags, wat vangs kan bemoeilik. Dit is ook moeilik om die datum van aflewering lank vooruit te bepaal maar dit kan opgelos word deur die diere met tyd in aanhoudingskampies of hokke te versamel totdat daar ‘n verkoopbare groep opgebou is.

 

Variasies

Die eerste Rivsco-vangkrale het bestaan uit ‘n stel plastiekseile wat óf in die sloot begrawe en met sand of plantegroei bedek word óf aan ‘n oorhoofse kabel opgerol word. Meganiese of radiobeheerde snellers laat die seile opskeit of val wanneer die uitgesoekte wild die lokmiddels soos water, sout of voedsel in die vangkraal besoek. Die seile is sowat 2.5 m hoog, maar 4.0 m vir elande en koedoes, en oorhoofse kabels is nie geskik vir kameelperde nie. Die wild raak gewoond daaraan om oor die grondbedekte seile of onderdeur die oorhoofse seile te beweeg totdat hulle gevang word. Die wild word met behulp van ‘n laaitrog gelaai, in tydelike aanhouding versamel of individuele diere kan chemies verdoof en gevang word. Wanneer die vangkraal nie gebruik word nie, kan die seile verwyder en gestoor word om verwering te voorkom.

Permanente vangkrale tot so groot as 50 ha, wat toegerus is met ‘n laaitrog en rondom ‘n water- of voerpunt met sout of lusern opgerig word, word ook gebruik. ‘n Ouland wat met tef of lusern beplant is, kan daarvoor gebruik word. ‘n Groot hek gee toegang tot die vangkraal. Die hek staan oop sodat die wild vryelik die vangkraal kan binnegaan en verlaat totdat die hek toegemaak word wanneer dit vangtyd is. Die heining bestaan gewoonlik uit 21 drade, is 3 m hoog en word soms met plastiekseile bedek. Nadat die wild gevang is, word hulle vir enkele dae met rus gelaat voordat hulle deur mense te voet of te perd na die laaipunt aangekeer word. Gordyne word dan agter hulle toegetrek voordat hulle met ‘n laaibrug in ‘n voertuig gelaai word, of met ‘n gang na aanhoudingshokke aangekeer word.

Die Du Plessis-variasie behels ‘n vangkraal van sowat 1 ha in die vorm van ‘n traandruppel, verkieslik rondom ‘n waterpunt, met ‘n opening van 10 tot 25 m in die nou kant wat per hand of elektronies met ‘n gordyn wat aan ‘n kabel hang, afgesluit kan word. Die kabel word 3 m bokant die grond gespan maar 4.5 m indien kameelperde ook gevang word. Die lokmiddel of waterpunt word ongeveer ‘n derde op halfpad in die vangkraal vanaf die ingang geplaas. Die diere word met ‘n laaitrog, wat met ‘n boog uit die vangkraal naby die opening loop, na die laaibrug aangekeer. Omdat hulle gewoond geraak het om die vangkraal deur die opening binne te gaan of te verlaat, sal hulle gewoonlik vanself naby die opening na die laaitrog toe versamel, wat dit makliker maak om hulle verder aan te keer. Die laaitrog is sowat 6 tot 10 m wyd en 20 m lank en kan afgesluit word met twee tot drie gordyne soos wat die wild na die laaibank beweeg sodat hulle nie kan omspring nie. Die vangs word vanuit een of twee uitkyktorings beheer.

 

Verskuifbare vangkrale

Wanneer wild op verskillende of moeilik bereikbare plekke op die plaas gevang moet word, kan verskuifbare vangkrale gebruik word. Dieselfde basiese benadering as met permanente passiewe vangkrale word gevolg. Eko Wild en die Static Live Animal Manipulation System (Slam) is twee alternatiewe. Eersgenoemde gebruik ‘n vangkraal wat lyk soos die vir groot getalle wild maar die wild word nie aktief aangekeer nie.

Die Slam-stelsel bestaan uit voorafvervaardigde panele van 3 m wyd wat gekoppel word om ‘n vangkraal te skep, en elliptiese vangkrale met ‘n lengte-as van 50 tot 80 m en een hek in die nou gedeelte word gewoonlik aanbeveel. Dit kan egter ook rond wees met twee hekke. Die laaitrog is sowat 9 tot 10 m wyd, en elke paneel is 3 m wyd, 2.8 m hoog en bestaan uit ‘n pypraam wat met maasdraad en dan met plastiekseil aan die binnekant bedek is. Die vangs word ook vanuit ‘n uitkyktoring beheer en die hekke kan meganies of elektronies met behulp van ‘n 12 V-battery toegemaak word.

Details oor en sketse van verskillende soorte passiewe vangkrale verskyn in die onderstaande bron van Bothma (2014).

 

Geselekteerde bronne:

Bothma, J du P. 2014, Passive capture methods. In: J du P Bothma & JG du Toit, Game ranch management, vyfde uitgawe. Pretoria: Van Schaik, pp 569-580.

La Grange, M. 2006. The capture, care and management of wildlife. Pretoria: Van Schaik.

article by Prof J du P Bothma

  

Click here to buy music, videos and images

SONGS
ADVERTISE
Advertise with us:
R10 000 pm VAT excl.